‘n Plek waar jy kan WORD & WEES.

Wie is ons

El Shammah is ’n AGS gemeente in Kathu en funksioneer onder die AGS van SA (Apostoliese Geloofsending). Die gemeente is gestig op 4 Desember 1976 en het op 20 Februarie 1993 die kerkgebou amptelik in gebruik geneem. Ons is baie trots op die oorsprong van die AGS deur die werking van die Heilige Gees en streef daarna om dit daagliks uit te leef. ‘El Shammah’ beteken ‘God in ons midde’ en ons vertrou dat jy Hom saam met ons sal beleef.

Ons Visie

WORD & WEES : Aanbidders – Dissipels – Familie

Ons glo elke gelowige is geroep om Christus te volg en te WORD & WEES soos Hy. So word ons:
  • AANBIDDERS wat God verheerlik en aanbid.
  • DISSIPELS wat intensioneel dissipels maak.
  • FAMILIE wat lief is vir mekaar en deel is van die geestelike familie.

Ons Missie

As familie van dissipels, verheerlik ons God, gee ons om vir mekaar en bring ons hoop en hulp in Kathu en die res van die wêreld.

Ons Opdrag

Ons glo dat die Groot Opdrag van Jesus die mandaat van die Kerk is.

Matt 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Ons Roeping

Ons glo dat elke volgeling van Jesus geroep is om intensioneel dissipels te wees en dissipels te maak.

Markus 1:17 “En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.”

ONS DNA

Kern Waardes

AANBIDDERS

Dat elke gelowige God sal verheerlik en AANBID.

DISSIPELS

Dat elke gelowige DISSIPELS sal wees wat dissipels maak.

FAMILIE

Dat elke gelowige deel van die geestelike FAMILIE sal word en wees.

Die gemeente onderskryf die Geloofsbelydenis soos verklaar
deur die AGS van Suid-Afrika:

Ons Geloofsbelydenis

Ons Glo ...

ONS GLO in die ewige, drie-enige God, almagtige Skepper, Onderhouer en Regeerder van die ganse skepping.
ONS GLO in God die Vader, die Outeur van die skepping en verlossing.
ONS GLO in Jesus Christus die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing, van die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.
ONS GLO in die Heilige Gees, ware God wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en in die hele waarheid lei.
ONS GLO dat die Bybel die woord van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat dit gesaghebbend die wil van God verkondig en ons leer vir saligheid nodig is.
ONS GLO dat alle mense na die beeld van God geskape is as gevolg van hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend, dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense saligheid sal ontvang deur geloof in Jesus Christus.
ONS GLO in die doping in die Heilige Gees, met die aanvanklike teken van spreke in tale soos aan alle gelowiges belowe is. Ons glo in die werking van die gawes en vrug van die Gees in die lewe van ‘n Christen. Ons glo dat ‘n Christen ‘n dissipel van Jesus Christus behoort te wees wat ‘n toegewyde en heilige lewe lei.
ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil aan alle mense. As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.
ONS GLO dat die doop van die gelowige (deur onderdompeling) en die Nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die Kerk onderhou moet word.
ONS GLO dat op die God-bestemde tyd Jesus Christus Sy Kerk sal kom wegneem.
ONS GLO in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel. Ons glo in die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.

Kerk Kantoor:
Tel. +27 53 723 1929
Weeksdae 8:00-12:00

Noodgevalle:
Sel. +27 76 988 3844

E-pos adres:
info@agskathu.co.za

Adres:
Hv Hendrik van Eck
& Hans Coetzee, Kathu 8446
Suid Afrika

Kerk Kantoor Ure:
Maandae- Vrydae
08:00 -12:00